155 JONGSPAN STORIES

Jongspan stories! 

KLEUTERS/VOORSKOOL TOT GR 2.

155 OT Stories oor gediertes en goggas uit die Bybel 

(Ek stuur nie meer CD's uit soos in die ou dae nie - wanneer jy bestel stuur ek net vir jou n link vanaf WeTransfer op die internet en jy laai af en print alles wat jy nodig het. 
Eenmalige aankope - en jy gaan lank besig wees!)


Vertel deur Kristof die Kater!  
Oorspronklik geskryf vir: www.ekerk.org

Geskryf deur René van Zyl en geïllustreer deur Esmé Walker.

PRYS: R250 

Die ejongspan stories skryf ek al 'n paar jaar lank en die hele reeks het verskyn op die ekerk webblad van Prof. Stephan Joubert. Ek het 'n cd met 155 van al die Ou Testament stories bymekaar gesit - met 'n kleurskets van elke karakter daarby. Jy is welkom om my te kontak hieroor. 
 Binnekort gee ek ook 'n pakket uit met die Nuwe Testament stories. Hierdie stories word vertel deur gediertes, goggas en voëls in die Bybel en ek gebruik dit by ons kinderkerk is vir kleuters, voorskool en Gr. 1 en 2 kinders! Ons lees die storie en gebruik die prentjies vir inkleur of ander aktiwiteite wat interessant is. n LYs van aktiwiteite word aangeheg.


Hieronder volg 'n voorbeeld van een van die stories. Kristof die kater vertel die stories van sy dierevriende in die Bybel en so word die ou Bybelverhale nuut deur die ogies van die verskillende gediertes! Jy kan self die stories lees/vertel of jy kan dat Kristof dit doen!

AS JY JOU EIE KRISTOF KATER POP WIL BESTEL, KONTAK VIR ESME' WALKER: SELNR. 0731479719. Of enige ander mens of dierpop - met n lyf of sonder een. Die lyf maak dit maklik dan kan jy die pop op jou skoot hou en sommer so met jou eie (eranderde stem) maak dat die pop praat - die kinders kom gewoonlik nie eens agter dat die pop nie self praat nie maar dat dit  jy is nie.  Esme' maak ook backdrops as jy iemand het wat jou kan help en die poppemeester kan agter die backdrop staan met die pop waat voor uitloer. Nes jy wil.

Sirenius Sprinkaan sien vir Jesus


Nog ‘n Bybelstorie deur Kristof, die Kristen Kater
Geskryf deur René van Zyl /Geïllustreer deur Esmé Walker
Ons het hierdie week weer ‘n lekker vervolgstorie, amper soos die ‘soapies’ op televisie! Dis nou al daardie storietjies wat elke dag op televisie is en wat net aanhou en aanhou en aanhou! Maar die storie van Sirenius die spioen sprinkaan is so interessant dat ek ook maar moet aanhou en aanhou…
Laaskeer het ons gehoor van Sirenius die sprinkaan wat amper deur Johannes die Doper gevang en opgeëet is. Sirenius het toe al die sprinkane gewaarsku teen die mannetjie en het vir Johannes van daardie dag af goed dopgehou: amper soos ‘n spioen. Hy het gesien hoe Johannes die mense in die Jordaanrivier doop en hulle gewaarsku dat hulle moet ophou sonde doen want God is oppad.
Een warm dag beloer Sirenius vir Johannes nog so vanuit sy palmboom toe sien hy Johannes wat altyd so baie praat se woorde het opgedroog! Voor hom het ‘n man gestaan met sulke vriendelike oë en ‘n breë glimlag. Die twee van hulle het amper ewe oud gelyk en kon familie wees. Hulle het amper gelyk na mekaar.
Die man sê toe: “Doop my ook, asseblief Johannes!”
Sirenius was verbaas toe hy antwoord: “Nee!” Johannes het sommer op sy knieë gaan staan in die water en gesê: “Nooit nie! Jesus, jy is mos nie ‘n sondaar soos almal wat ek doop nie? Dis eintlik jy wat my moet doop!”
Jesus het net gesê: “Jy moet my doop, Johannes want dit is alles deel van God se planne.”
Johannes het dadelik geluister en het vir Jesus gedoop. Sirenius het hom boeglam geskrik toe Jesus uit die water opkom en daar skielik ‘n wit duif uit die hemel kom en afvlieg na Jesus toe. ‘n Stem het uit die hemel gesê: “Dit is my seun vir wie Ek baie lief is! Hy maak my sommer baie gelukkig!” Sirenius kon hoor dat dit God se stem was! Hy was opgewonde! Al die mense daar het groot geskrik en geweet dat Jesus God se Seun is wat na ons toe gekom het op hierdie aarde om ons te kom help.
Sirenius het gesien dat Jesus woestyn se kant toe loop en hy het Hom nie weer gesien nie. Maar Sirenius se groot werk was mos om vir Johannes dop te hou en hieroor kan hy baie vertel. Dit was nie lank daarna nie of daar kom ‘n groep soldate aan wat vir Johannes kom vang het. Hulle het hom sommer so uit die water gepluk terwyl hy gepraat het en gesê: “Jy! Is jy Johannes die Doper?”
“Ja, ek is. Wie wil weet?” het hy gevra.
Die groot soldaat met die vet maag het gesê: “En het jy gesê dat ons koning Herodus verkeerde goed doen?”
“Ja,” het Johannes gesê: “Dit is omdat hy sommer sy broer se vrou vir homself gevat het! God sê dis verkeerd!”
“Ek is jammer jy dink so, want Herodus het gesê jy moet tronk toe gaan omdat jy hom so slegsê voor almal!” het die soldaat gegrom en sy maters beveel om vir Johanmes daar weg te sleep.
Sirenius het besluit om saam te vlieg. Hy moet die ander sprinkane waarsku dat Johannes oppad is. Maar eintlik was hy bekommerd oor wat die soldate met Johannes sou doen. Hy het gespring en gevlieg dat sy boude pyn van al hierdie ekstra oefening!
Wat Sirenius ‘n paar dae later vertel het, toe hy terugkom na die palmboom by die Jordaanrivier, was ‘n hartseer storie. “Slegte nuus, my vriende,” het Sirenius vertel:
“Daardie wrede Herodus het Johannes die Doper sommer laat doodmaak. Ek het alles gesien. En dit nog terwyl almal in die kasteel partytjie gehou het.” Sirenius was skoon hartseer: “En die ergste is dat Jesus vreeslik hartseer is hieroor. Hy en Johannes was mos nie net goeie vriende nie; hulle twee was mos nefies, het julle geweet?”
Van daardie dag af was Sirenius se lewe maar oninteressant. Daar het nooit weer sulke opwindende dinge daar langs die Jordaanrivier gebeur soos toe Johannes die mense daar gedoop het nie. “Maar,” het Sirenius gesê: “Ek het gehoor dat Jesus orals in die land rondgaan en vir mense van God se nuwe wêreld vertel. Die hele Israel is in rep en roer en wil net vir Jesus sien. Hy maak glo mense gesond en leer almal van God.!” En Sirenius het lekker gegiggel: “En wat goed is vir ons sprinkane: Jesus eet nie sprinkane nie!”
Hierdie storie van Sirenius en Johannes staan in Matteus 3:13-17 en in hoofstuk 14:1-12. En soos ek laas gesê het: Sirenius het weggebly van die Bybelskrywers want hy was seker bang hulle was ook sprinkaaneters!
Dié storie wil ons leer: Ons moet soos Johannes altyd vir mense van Jesus vertel. En ons moet hulle ook waarsku as hulle lelike goed doen waarvan Jesus nie hou nie. Maar soos Jesus moet ons ook altyd goed doen aan ander mense.
Kater Groete!
 Nog voorbeelde van poppe deur Esme' Walker 0731479719:
 





No comments:

Post a Comment